Tussen Wimpy en Tekkietown
loop ek in jou vas.
Onverwags!
(maar nie onbeplan nie.)
Om jou nou te soen is onvanpas..
(maar nie onbedagsaam nie)
My stem slaan weg, my mond is droog,
die silwertongduiwel’t gedros.
Ek systap links,
by Tekkietown in,
(dalk gee dit my ‘n oomblik om te besin..)
Toe ek terugkyk is jy weg!
(dis jou reg.)
Dìe Petrus het jou sleg verloën...
(Was hy eerder ‘n Judas, het hy jou darem gesoen!)
Die oomblik is verby,
die vierde dimensie tot niet.
Miskien eendag in ‘n ander heelal,
een met ‘n ander ek,
(een met mannemoed!)
kan ons weer ontmoet?