Thursday, 7 March 2013

Dompelpompdood


Tweeuur in die môre,
die wêreld moet mos slaap,
maar êrens in die verte
blêr 'n halfverdwaalde skaap.

'n loshang yster swaai 
ritmies in die wind,
luitoon klink kompleet
soos kerkklok-roep se kind.

Die dompelpomp moet dood,
die spuite loop al hoeka
'n uur of wat te lank,
water's nie oorvloedig nie,
die Eskom-som word groot.

Gewoonlik gaan ek met 'n wapen uit,
want spyt kom mos te laat.
Maar:
Jy dink dat alles veilig is;
die Beretta is te swaar,
dit gebeur mos net met ander,
want hier's mos geen gevaar...

Dis tweeuur in die môre
en die dompelpomp moet dood.

Wednesday, 6 March 2013

Maanskyn en Jasmyn... Of brandewyn en pyn.



Liefde is nie altyd

sag en mooi

soos rose,
maanskyn en jasmyn nie.



Rose en jasmyn wys nie al die pyn nie.
Hier en daar 'n doring,
af en toe 'n steek,
dink jy dit is hoe
die liefde
en die lewe
se langtermyn-verhoudings
inmekaar gaan steek?



Nee meneer/mevrou/mejuffrou,
dis nie altoos so nie,
die waarheid is soms baiekeer meer so:



Die somerson verskroei die rose,
die westewind verdor jasmyn,
die volmaan bring die waansin,
die sekelmaan die pyn.



Geen waarheid maak meer sin,
geen redes dring dan deur.
Die deure klap, die stem weergalm,
die einde kom net nooit...
Vir dae klink die eggo
van die vloek-en-skeltoon voort..



Jaloerse mense maak
die lewe vir die ander hier 'n hel,
dit wat saakmaak,
dit wat waar is,
is nie hierso ooit in tel.



Miskien sal die ewewig in vrede
eendag kan herstel,
maar...
dan slegs as:
die dorings afgebrand word,
die geur van wraak verdryf word,
die bron van waansin verwoes word..



Maanskyn en jasmyn...
miskien.. 
Merendeels: 
Sonskyn en brandewyn;
Pille en gille..



Nimmereindigende pyn!